Prosperity for All
A Town to grow, work, play & prosper in

Waterbesparings veldtog deur Oudtshoorn munisipaliteit

Oudtshoorn, 07 Maart 2018 – In ‘n poging om inligting oor waterbesparing op alle vlakke van die samelewing te versprei, begin Oudtshoorn Munisipaliteit ‘n opvoedkundige veldtog spesifiek gemik op skoolkinders.  In die munisipale nuusbrief, Maart 2018 se uitgawe bladsy twee, is daar ‘n blokkiesraaisel vir kinders om hulle algemene kennis te toets en ook hope pryse te wen.

“Ons fokus deesdae op ons kinders ook om hulle die noodsaaklikheid van waterbesparing te leer. Deur dit te doen glo ons dat ons ‘n stewige fondamant lê, sodat hulle verder kan bou deur andere meer bewus te maak.  Hulle is immers diegene wat in die toekoms oplossings moet kry vir watertekorte” sê Colan Sylvester, Uitvoerende Burgemeester.

Die Wes-Kaap gaan deur een van die ergste droogtes ooit weens swak reënval, vinniger klimaatverandering en ‘n groot aanvraag na water as gevolg van bevolkingsgroei. Oudtshoorn, soos baie ander dorpe in die provinsie, word deur hierdie droogte geraak.

“Hierdie is ‘n poging om ‘n kultuur van waterbewaring in ons kinders daar te stel,” sê Allen Paulse, munisipale bestuurder.  “Ons hooffokus is om ons kinders te begin opvoed oor hoe om hierdie skaars kommoditeit te hanteer. ”

“Nommer 16(dwars) se antwoord is “mellville”.  Ietwat van ‘n tikfout, maar nou het julle ‘n begin,” skerts Paulse.

Daar sal ses wenners gekies word wat die volgende pryse gaan kry:

  • Eerste prys: Asus Vivo Stick TS10 
  • Tweede prys: Skryfbehoeftes ter waarde van R1000 
  • Derde prys: Skryfbehoeftes ter waarde van R500 
  • Vierde, vyfde & sesde prys: Powerbank 

Alle deelnemers kan hul blokkiesraaisels by die verskillende biblioteke en betaalpunte in die Groter Oudtshoorn ingee.  Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 16 Maart 2018.

Die munisipaliteit beoog om meer kompetisies te hou om alle inwoners in Oudtshoorn bewus te maak van die waarde van water.