Prosperity for All
A Town to grow, work, play & prosper in

Die vuil strate is kommerwekkend vir die Burgemeester

Oudtshoorn, 23 Mei 2017 – Die Uitvoerende Burgemeester, Colan Sylvester, sê dat dit vir hom ‘n bron van kommer is dat die dorp se strate net nie kan skoon bly nie, nadat ‘n bewustheid en skoonmaak operasie begin was op 15 Mei 2017. Dieselfde gebiede is twee maande terug deur die munisipaliteit, Afriforum en die Toerisme Transformasie Missie (TTM), met behulp van die inwoners skoongemaak, voeg die burgemeester by.

Sylvester wil die inwoners se aandag daarop vestig dat dit nié die munisipaliteit is wat rommel rondstrooi nie, maar wel die inwoners.  Hy sê dat die inwoners elke maand vir die verwydering van vullis betaal, en daarom is dit so noodsaaklik dat hulle hul vullis op die aangewese dae uitsit en nie in die parkies of die strate strooi nie. “Ons kry nie genoegsame samewerking van die inwoners nie.  Ons omgewing is waar ons lewe. Help ons om u te help en kom ons hou ons dorp skoon”  vra die burgemeester. 

“Ons wil inwoners ekologies opvoed bemagtig. Daar is so baie op die spel as ons ons historiese erfenisse, menslike habitat en gesondheidsprobleme afskeep. Uit ‘n toerisme perspektief wil ons waarde toevoeg tot die gemeenskap.”

“Dit is om hierdie redes dat ons die gemeenskappe wil begin bemagtig sodat ons kinders omgewingsbewus kan raak en dit dan oordra aan hulle kinders. Die gevaar is dat dit so maklik is om sekere gebiede te vergeet,  en daarom doen ons ‘n beroep aan die inwoners om te help om van hierdie veldtog ‘n sukses te maak.”

Me Jenita Patrick, ‘n inwoner van Rose Valley sê: “Ons wil die ingesteldheid van ons mense verander.  Ons wil hê inwoners moet eienaarskap neem en verantwoordelik wees vir die omgewing waarin hulle bly.”  By haar gaan dit om die liefde vir die dorp en om die dorp meer toeristevriendelik te maak.

Die burgemeester moedig inwoners aan om alle onwettige storting van vuillis aan te meld. Alle persone wat hulself skuldig maak aan die onwettige storting van vullis, sal beboet word. Gemeenskapsdienste het ‘n tydelike klagte-eenheid op die been gebring. Alle klagtes rakende onwettige storting op oop ruimtes, op oop erwe (privaat, regering, munisipale eienaarskap) moet asseblief aan me Melissa Arries gestuur word of kontak haar op 044 -203 3988.