Prosperity for All
A Town to grow, work, play & prosper in

Verkeersdepartement Poog Om Agterstand in te Haal

Oudtshoorn, 13 Oktober 2020 – Die waarnemende munisipale bestuurder, Gerald De Jager, het op Dinsdag, 13 Oktober 2020, ‘n besoek afgelê by die Oudtshoorn Verkeersdepartment.  Die rede vir die besoek was om vas te stel wat die munisipaliteit kan doen om dienslewering te verbeter.

De Jager wil graag die publiek bedank vir hul geduld en verstaanbaarheid as dit kom by die lang lyne, maar wil die publiek aanmoedig om gebruik te maak van die aanlyn fasaliteite vir die betaling van hernuwing van voertuiglisensies.  “Om nie in lang toue te wag nie, het die Oudtshoorn-munisipaliteit via ‘n aanlynproses ‘n prosedure vir hernuwing van voertuiglisensies geïmplementeer. Dit vat ‘n paar minute om dit aanlyn te doen en u kan u voertuiglisensie binne drie dae afhaal by die verkeersdepartement sonder om in die lyn te staan” noem De Jager.

Op die oomblik is daar slegs drie kassiere waarvan twee in isolasie is as gevolg van Covid-19, wat baie uitdagend is vir die verkeersdepartement as dit kom by dienslewering.   Die verkeers-departement help ongeveer 270 mense per dag by motorregistrasies, bestuurslisensies en die voertuigtoetsstasie.  Ofskoon daar gemiddeld meer as 800 persone gehelp is, is die transaskies gedoen in Julie 2020 vir motorregistrasies ongeveer 2286 en vir bestuurslisensies ongeveer 1576.  In Augustus 2020 het dit verdubbel met motorregistrasies transaksies van 5119 en bestuurslisensie transaksie van 3078 terwyl transaksies vir September 2020 vir motorregistrasies 6693 en bestuurslisensies 1559 was.

‘n Ander uitdaging is motorhandelaars wat groot getalle voertuie het om te registreer en die munisipaliteit is besig om te onderhandel om spesiale tye oop te maak, meestal naweek, maar oortyd van personeel bly ‘n uitdaging. Gerald De Jager noem dat die munisipaliteit voort sal gaan om ander opsies te ondersoek om die probleem op te los as ook om die agterstand in te haal wat teweeggebring is deur die grendeltydperk.

Indien u digitaal wil gaan, gaan op die webwerf https://online.natis.gov.za/#/ en sien hoe maklik dit is.