Prosperity for All
A Town to grow, work, play & prosper in

Spaar water voor Oudtshoorn dooie water bereik

Oudtshoorn, 31 Julie 2018 – Oudtshoorn se damme is besig om leeg te loop en die munisipaliteit doen ‘n dringende beroep op inwoners om asseblief uiters spaarsamig te werke te gaan met hul watergebruik.

Water word tans na die dorp gevoer uit die Raubenheimerdam en die damvlak is op ‘n baie lae 30%. Soos die damvlak daal is die kans goed dat die kwaliteit verder sal verswak, tot op ‘n punt waar die “dooie” water onder in die dam heeltemal onbruikbaar is. Daarenteen is die Melvilledam tans 100% vol en die kwaliteit van die water is ook heelwat beter as dié van die Raubenheimerdam. Die Melvilledam het egter net een maand se watervoorraad en word dus gespaar vir ingeval die “dooie water” in die Raubenheimerdam bereik word.

Reën is dus dringend nodig om die damvlak te lig.  Oudtshoorn munisipaliteit het waterbeperkings ingestel wat inwoners ernstig moet opneem.  “Elke druppel water help en elkeen van ons is verantwoordelik om toe te sien dat water nie gemors word nie.  Dit is ons plig om te verseker dat ons by die waterbeperkings hou om sodoende te verhoed dat die Raubenheimerdam se vlakke drasties daal,” sê Colan Sylvester, Uitvoerende Burgemeester.

Oudtshoorn het ongeveer 97 981 inwoners uit ongeveer 23 362 huishoudings, waarvan elkeen geregtig is op die gebruik van water, so elke inwoner moet die ander een in gedagte hou.  Die muniispaliteit pleit dus by elke inwoner om nie meer water as wat nodig is te gebruik nie.

Die damwater word konstant gemonitor om seker te maak of dit wel drinkbaar is. Die laaste toetsuitslae toon dat daar geen ecoli. of totale kolivorme in Oudtshoorn se drinkwater is nie, maar die troebelheid sowel as die kleur is wel te hoog. As gevolg van die te hoë troebelheid word daar aanbeveel dat die water vir drinkdoeleindes gekook word. Die water sal ook ongelukkig wit wasgoed vlek.

“Ons kan ‘n water krisis verhoed, as almal hulle samewerking gee.”