Prosperity for All
A Town to grow, work, play & prosper in

Oudtshoorn Munisipaliteit vier vrouedag

Oudtshoorn, 15 Augustus 2017 – Oudtshoorn munisipaliteit het op Vrouedag, 09 Augustus 2017, ‘n middag van kuier en gesels met die verskillende vroue in die gemeenskap aangebied.  Die doel van hierdie samekoms was om vroue van die dorp weer bymekaar te bring om saam met mekaar te werk en te streef om beter met mekaar te leef.

Die 100 gaste was vroue van verskillende organisasies in die gemeenskap, oud en jonk, van landelike gebiede tot besighede. Onderburgemeester, Noluthando Mwati, het tydens haar verwelkoming aan die gaste gesê dat as vroue hulle ingesteldheid en manier van dink kan verander dan bring hulle eer aan die vroue wat in 1956 opgestaan het vir hulle regte en op ‘n kalm, dog ferm manier gesê het “genoeg is genoeg”. 

Mwati het verder vroue aangemoedig om verandering aan te gryp en dit te sien as ‘n geleentheid om te groei. “Bemagtig vroue dan bemagtig jy die gemeenskap” het sy hulle toegespreek.  “Vroue, u is vegters.  Sien alles wat op u pad kom as voorbereidinge vir dit waarvoor u bestem is.”

Die hoofspreker van die middag was Me Lorraine Samuels van die Departement van Justisie.  Samuels het vroue terug laat dink aan waar hulle vandaan kom,  tot waar hulle hulself vandag bevind.  Sy het genoem dat vroue  ‘n baie belangrike rol speel in sekere sfere van die besigheidswêreld.  “ Wees dapper, wees vry en bemagtig julleself.  Vroue neem u Godgegewe gawe aan en styg op na hoër hoogtes” was haar woorde aan die vroue.

Ms Salome Plaatjies  het ‘n motiveringsboodskap met die vroue gedeel en haar woorde aan die vroue was: “U as vroue is nie gebore om in te pas nie maar om uit te staan.” “Vroue wees mooi vir jouself, trek aan vir jouself.  Moenie dinge doen vir ander om jou raak te sien nie, maar doen dit vir jou.”  Edgars en Justine het ook die vroue verras met verskillende geskenkbewyse. Die program direkteur was Me Wilna Frances van Departement van Onderwys.

VLNR: Me L Samuels, Departement van Justisie & Me W Frances, Departement van Onderwys

Motivational Speaker, Me S Plaatjies