Prosperity for All
A Town to grow, work, play & prosper in

Oudtshoorn het nou ‘n splinternuwe toetsbaan

Oudtshoorn, 14 Augustus 2018 – Die Oudtshoorn verkeersafdeling het gister sy toetsbaan amptelik oopgemaak vir alle bestuurderslisensies.  “Die toetsbaan voldoen aan alle vereistes vir ‘n Graad A status en is weer oop vir alle voertuie en motorfietse,” het Patrick Jordaan, Hoof: Verkeersafdeling, tydens die openingseremonie genoem.

“Ons vra om verskoning vir die publiek vir enige ongerief die afgelope tyd omdat daar geen toetse gedoen was nie, en wil u weereens verseker dat ons die gemeenskap wil dien tot die beste van ons vermoë.”  Jordaan noem ook dat baie ure en werk ingesit is om hierdie toetsbaan weer oop te stel vir gebruik.  Oudtshoorn raad het ongeveer R652 000 van hulle kapitaalbegroting gebruik om hierdie projek te befonds om een van sy pligte aan die publiek na te kom.

“Wat eens ‘n doring in die oog was, is nou ‘n baken van trots vir die inwoners van die Groter Oudtshoorn, het die Uitvoerende burgemeester, Colan Sylvester, gesê toe hy gevra was wat dink hy van die splinternuwe toetsbaan by die verkeersdepartement.

Charlton Majiedt van die Departement van vervoer en openbare bestuur van Wes-Kaapse regering, bedank die munisipaliteit en amptenare wat gehelp het om die bestuurderslisensie-afdeling op standaard te kry en verseker dat hulle sal voortgaan om die munisipaliteit te ondersteun sover hulle kan.  “Dit is wonderlik om te sien dat iets waaraan ons so lank aan werk uiteindelik die lig sien,” het mnr Majiedt gesê en is trots op almal wat so hard saamgewerk het.

Die provinsiale regering het die munisipaliteit al die pad ondersteun en wou verhoed dat Oudtshoorn verkeersafdeling toe maak. Die plaaslike, provinsiale en selfs nationale regering was moniteerders deur die hele proses en het toegesien dat alles binne die wet gedoen word.

Die verkeersafdeling van Oudtshoorn munisipaliteit was verlede jaar op die punt om gedegradeer te word na ‘n Graad F as gevolg van die toetsbaan wat nie aan die vereiste standaarde voldoen van ‘n Graad A lisensie toetsbaan nie. Na die opknapping van die toetsbaan het die Provinsiale Departement van Vervoer bevestig dat die verkeersafdeling sy vorige Graad A status kan hervat.

Lara Le Roux, 18, was die eerste leerlingbestuurder op die nuwe toetsbaan en het haar bestuurderslisensie geslaag.