Prosperity for All
A Town to grow, work, play & prosper in

Oorhandiging van huise in Rosevalley

Oudtshoorn, 16 Mei 2017 – Die Burgemeester, Rdh Colan Sylvester, het op Maandag, 15 Mei met die amptelike oorhandiging van agt huise in Rosevalley, aan die begunstigdes genoem dat die ontvangs van hul eie huise moet uitstaan as een van die groot oomblikke in hul lewe.

Die 56 jarige Gert Julies, een van die agt begunstigdes met sy vrou Magda, kon nie sy emosies beheer toe hy sy huis ontvang het, nadat so lank op ‘n huis gewag het nie. 

Hierdie huise is deel van Fase 2 van die Rosevalley  behuisingsprojek wat bestaan ​​uit 67 eenhede, 46 semi-eenhede en 222 dubbelverdieping duplex eenhede. Die ander huise sal stelselmatig aan gekwalifiseerde begunstigdes oorhandig word.  Konstruksie van die oorblywende 332 wooneenhede sal in Fase 3 begin ná die voltooiing van Fase 2.  Die voltooiing van al drie fases sal na verwagting in Desember 2018 wees.

Colan Sylvester het gesê dat die gehalte en kwaliteit van die huise in Rosevalley uitstekend is met ‘n mooi uitsig oor die Swartberge. en het namens die Raad gesê dat hulle baie trots is op Oudtshoorn Munisipaliteit.  Sylvester het die nuwe inwoners aangemoedig om hulle dienste rekeninge te betaal aangesien die munisipaliteit dienste gaan lewer aan die inwoners.

“As u trots is op u huis, sal u ook trots wees op u omgewing.  Wees verantwoordelik met dit wat aan u toevertrou is.  Put alle vreugde in die woonhuise waarin u gaan bly” was Rdh Sylvester se woorde  aan die nuwe inwoners.

In die foto: Gert Julies en sy vrou Magda ontvang hul eerste huis vanaf die Burgemeester, Colan Sylvester