Prosperity for All
A Town to grow, work, play & prosper in

Munisipale amptenare hou “Wellness Day”

Oudtshoorn, 06 Junie 2018 – In ‘n poging om die moraal van die werkgewers te verhoog, het Oudtshoorn munisipaliteit ‘n “Wellness Day” gehou op Vrydag, 01 Junie 2018, by die De Jager Sportkompleks.  Die Menslike hulpbron afdeling van die munisipaliteit het Junie maand gemerk as werk/loopbaan & intellektuele maand.

“Laat ons almal onsself daaraan herinner hoe geëerd ons is om deel van die arbeidsmag van Suid-Afrika te wees” het die uitvoerende burgemeester, rdl Colan Sylvester, gesê.

Deel van die dag se verrigtinge was ‘n potjiekos kompetisie waaraan die verskillende department deel geneem het. “Dankie aan al die Potjiekos meesters en meesteresse, wat vandag hul staal langs die vure sal wys”, het Sylvester hulle aangemoedig.  Nie eers die welkome reen kon die feestelike gemoedere laat daal onder die werknemers en hul potjiekos vure nie.

Die doel van die hele aangeleentheid is om ‘n gevoel van samehorigheid tussen werkgewer en werknemer te bewerkstellig, die klem op die belangrikheid van persoonlike welstand te sit en ook om die munisipaliteit se verhoudings met alle relevante belangegroepe te versterk.

Verskeie sprekers was deel van die openingseremonie, onder andere:

  • Pastoor George van die Suid Afrikaanse Polisie Dienste
  • Me Inge Manuel van Departement van Arbeid
  • Mnr Wayne Pietersen van Department van Sosiale Ontwikkelinge
  • Mnr Leon Ernstzen van Sanlam
  • Mnr Dirk Van der Westhuizen van Departement Sport en Kultuur
  • Mnr Kgaugelo Shadung van Cape Nature
  • Me Eshida May van Departement van Gesondheid.

Hierdie sprekers het die geleentheid gebruik om die werkers advies te gee oor hoe om ‘n gesonde lewenstyl te handhaaf, hetsy finansieel, op werksvlak en ook raad gegee oor hoe om te beplan vir die toekoms. 

Daar was ook heelwat stalletjies waar werkers kon gaan vir hulp en advies, soos verskeie finansiele instellings, die pensioen en mediese fondse e nook versekeringsmaatskappye.

Die werknemer bystand program van die munisipaliteit word bestuur na gelang van die sewe dimensies van welstand, naamlik geestelike, finansiele, omgewing, sosiaal, kultuur, emosionele en fisiese welstand.  “Wanneer jy ‘n gesonde werknemer op alle vlakke van sy lewe het, dan pluk die werkgewer die vrugte daarvan” sê Colan Sylvester “en daarom is dit so belangrik om in ons werkers te belê.”

Terwyl die toesprake aan die gang was, het die vure aan die buitekant gebrand en die potte geprut en almal was angstig om uit te vind wie maak die wenpot en wie gaan die beoordelaars beindruk.  Teen die middag, het die beoordelaars hulle rondtes gedoen by al die tente en uiteindelik is Finansies: Uitgawes as die wenner aangekondig.  Hulle het ‘n mexikaanse tema gehad en die potjiekos het hulle tema gekomplimenteer.

Die tweede plek wenner was Finansies: Inkomste en hul tema was “Cowboys & Cowgirls”. Derde plek het gegaan na die Verkeersafdeling.  Hulle tema was “Hawaii”.

Die werkers het almal die dag geniet en dit was ‘n reuse sukses.  Die burgemeester bedank almal wat teenwoordig was.