Prosperity for All
A Town to grow, work, play & prosper in

Konstruksie van die De Rust Grootmaat waterpyplyn

Oudtshoorn, 31 Julie 2018 – Grootmaat watervoorsiening te De Rust is nie voldoende nie omrede (1) die dorp se watertoekenning uit die Huisrivier van 4,5l/s, minder is as die gemiddelde verbruik van 6,5l/s en (2) die kwaliteit van die water uit die Huisrivier by tye swak is, veral na die verwoestende brand in Desember 2016 in die opvangsgebied.

Oudtshoorn munisipaliteit het begin met die konstruksie van die pyplyn tussen die Klein Karoo Landelike Watervoorsiening Skema en die reservoir in Blomnek. Water wat deur hierdie pyplyn aan Blomnek, De Rust voorsien sal word is vir aanvulling wanneer daar tekorte in droogte tye ontstaan en ook wanneer die watergehalte nie na wense is nie. Artikel 4B van die Grondwet lys waterdienste, beperk tot drinkbare watertoevoerstelsels, as ‘n plaaslike regering funksie. Basiese water word gedefinieer as 25 liter van drinkbare water per dag, voorsien binne 200 meter van ‘n huishouding.

Hierdie projek behels ‘n 4,5km pyplyn van 200mm in diameter asook die totale opgradering van die aanjaerpompstasie by Nelsrivier. Die water is afkomstig van boorgate en dit word by die watersuiweringswerke by Dysselsdorp eers gesuiwer voordat dit na bogenoemde pompstasie sal graviteer. Vanaf hierdie pompstasie sal die water na die Asla-reservoir by Blomnek gepomp word.

Die suiwering van die water behels die verwydering van die  oormaat yster en mangaan, die regstelling van die lae ph en laastens volg die chlorinering. Die projek se voltooingsdatum is middel Oktober 2018. Die projekwaarde is R8,4miljoen en is moontlik gemaak deur Droogtehulp fondse, MIG (Municipal Infrastructure Grant) asook WSIG (Water Services Infrastructure Grant). Die kontrakteur is Meyer Beton.

Oudtshoorn munisipaliteit wil sy dankbaarheid jeens die befondsing uitspreek en besef dat dit ‘n groot verskil sal maak aan die inwoners van De Rust wat die laaste aantal jare gebuk gegaan het onder watertekorte en by tye ook swak kwaliteit water ontvang het.