Prosperity for All
A Town to grow, work, play & prosper in

KKNK Slaggereed vir Beurtkrag

Met beurtkrag en veral fase 4-beurtkrag wat tans landwyd ontwrigtings veroorsaak, doen feesorganiseerders van die 25ste KKNK, wat Donderdag op Oudtshoorn begin, alles in hul vermoë om gebeurlikheidsplanne in plek te stel om te verseker dat feesgangers nie te veel ontwrig word nie.

“Ons is bewus van die huidige elektrisiteitstekort by Eskom vanweë die sikloon in Mosambiek. Ondanks hierdie uitdaging, is al die voorbereidinge vir ons kwarteeu-verjaarsdagviering opstryk en ons doen wat ons kan om feesareas van krag te voorsien”, sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.

Hy verduidelik dat reëlings vir kragopwekkers in plek is vir teatervenues en die feesterrein (Kuierbuurt). “Ons doen ’n beroep op feesgangers om kalm te bly tydens enige kragonderbrekings en die nodige tyd toe te laat vir die kragopwekkers om in te skop. The show will go on”, het hy verseker.

Die Oudtshoorn-munisipaliteit doen ook alles in hul vermoë om te verseker dat besoekers en inwoners ingelig bly oor beurtkrag. “Die munisipaliteit werk nou saam met die KKNK en alle ander belanghebbendes om te verseker dat Oudtshoorniete en ons gaste vroegtydig weet wanneer die ligte afgaan”, sê die munisipaliteit se mediabeampte Ntobeko Mangqwengqwe.  Beurtkrag-skedules verskyn op die munisipaliteit se webtuiste, www.oudtshoorn.gov.za en word gereeld opgedateer.

Theart sê die veiligheid van feesgangers is prioriteit en feesareas en sekere sleutelstrate sal verlig word, beurtkrag ten spyt. Hy moedig feesgangers aan om proaktief te wees en ’n flits of koplig saam te bring, ingeval die ligte by hul verblyf afgaan of indien hul in ’n area op die feesterrein beweeg wat minder belig is.

Feesgangers word aangeraai om KKNK25 se amptelike app waarop belangrike inligting in verband met beurtkrag gekommunikeer gaan word, af te laai. “Die app is vir ons ’n doeltreffende manier om met feesgangers te kommunikeer en ek wil elkeen aanmoedig om die app vir dié doel af te laai. Daar is boonop allerhande ander handige feesinligting beskikbaar”, voeg Theart by.

Die KKNK25-app is gratis beskikbaar op die Apple App Store en die Google Play Store.

Die volledige feesprogram vir die 25ste KKNK, wat tot Woensdag, 27 Maart op Oudtshoorn aangebied word, is beskikbaar by www.kknk.co.za en kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home gekoop word. Verblyfbesprekings kan by 044 203 8600 of verblyf@kknk.co.za gedoen word.