Prosperity for All
A Town to grow, work, play & prosper in

Burgemeester bedank almal vir die reuse sukses van die maskerbal

Oudtshoorn, 22 Maart 2017 – “Die aand was ‘n wonderlike sukses, en ek is dankbaar vir al die borge en gaste wat die aand vir ons moontlik gemaak het.” het Burgemeester Colan Sylvester gesê. Die eerste burgemeester maskerbal het sowat R77000.00 ingesamel.

Mnr Colan Sylvester wil van hierdie geleentheid gebruik maak om al die borge uit sy hart uit te bedank wat daartoe bygedra het dat die hele aand se verrigtinge, vanaf die maskers, die ete, die musiekgroep, die dekor, die fotograaf, betaal was sonder dat Oudtshoorn munisipaliteit ‘n hand in sy eie sak hoef te steek.

Die maskerbal was op Vrydagaand, 17 Maart 2017 en die doel van hierdie aand was om fondse in te samel vir ons mishandelde vroue en weeskinders.  Die volgende besighede het elk groot bedrae geskenk vir hierdie spesifieke doel.

  • Martin & EA (Zebra)
  • Penny Pinchers
  • Civil Corp
  • Asla
  • Toploos
  • Klein Karoo International
  • Aifa

Cango Wildlife Ranch, Kango Grotte, Wilgewandel, Calitsdorp Spa en Aifa het die gaste verras met wonderlike pryse wat gewen was deur die loop van die aand. Oudtshoorn Courant, Die Hoorn, Die Herrie, SFM en Eden FM het addisionele gratis uitgawes en publikasies geborg gedurende die bekendmaking van die maskerbal. Die musiekgroep, Funky Afro, het hulle goed van hulle taak gekwyt.  Die fantastiese dekor was voorsien en gedoen deur Mev Mars en Maria Arries.  Marilize Oosthuysen het die smullende kos voorberei.  Die fotograaf, Awie Hendricks, het ons gemaskerde gaste op kamera neergelê.

Die gasspreker, Minister Bonginkosi Madikizela het tydens sy toespraak gesê dat dit sy hart goed doen om te sien dat een van Oudtshoorn Munisipaliteit se doelwitte ‘n beter lewe vir mishandelde vroue en weeskinders is.  ‘n Memorandum van verstandhouding is ook op Vrydagoggend, 17 Maart 2017 deur die Burgemeester en Minister Albert Fritz onderteken. Hierdie twee geleenthede wat dieselfde doelwitte nastreef, het die pad oopgesper vir die Department van Sosiale Ontwikkeling en die munisipaliteit om saam te werk om hierdie doelwitte te verwesenlik.