Prosperity for All
A Town to grow, work, play & prosper in

Burgemeesters-Imbizos 2024: Inwoners Se Insette Word Verwelkom

Oudtshoorn, 03 April 2024 – Die Uitvoerende Burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Raadsheer Chris Macpherson, kondig met trots aan dat die jaarlikse reeks burgemeesters-imbizos vanaf 08 tot 17 April 2024 sal plaasvind. Hierdie imbizos word gereël met die uitdruklike doel om inwoners die geleentheid te bied om insette te lewer ten opsigte van die begroting vir die komende jaar.

Dit is belangrik om te beklemtoon dat die fokus van hierdie imbizos op inwoners se insette en vrae oor die samestelling en inhoud van die begroting sal wees. Ons moedig alle inwoners aan om van hierdie geleentheid gebruik te maak om hul stemme te laat hoor en by te dra tot die begrotingsproses.  Die imbizos gaan nie oor klagtes met betrekking tot dienslewering nie, maar eerder om ‘n platform te bied vir konstruktiewe insette en betrokkenheid van die gemeenskap in die begrotingsproses.

Hierdie jaar se Imbizo word anders gedoen as die vorige jare om dit vir die publiek makliker en meer toeganklik te maak om u sê te sê oor die konsepbegroting vir 2024/2026 finansiële jare. Die publiek kan nou enige tyd tussen 15:00 en 18:00 op hulle geskeduleerde dae vir wyke direk met die Uitvoerende Burgemeester en die munisipale bestuur gesels. Tydens die konsultasie sal brosjures uitgedeel word met ‘n opsomming van die begroting, voltooide projekte, toekomstige projekte en huidige deurlopende projekte.

Om hierdie gesprek te fasiliteer, sal die hoofde van die verskeie departemente teenwoordig wees om vrae te beantwoord en inligting te verskaf. Inligtingstukke sal ook beskikbaar wees tydens elke imbizo om inwoners verder te bemagtig met die nodige kennis en inligting.

“Ek sien uit daarna om die inwoners te verwelkom by die burgemeesters-imbizos en sien uit na ‘n vrugtevolle en positiewe wisselwerking van insette en idees,” noem die Burgemeester.