Prosperity for All
A Town to grow, work, play & prosper in

Brande By Stortingsterrein

Oudtshoorn, 22 Januarie 2024 – Oudtshoorn Munisipaliteit is deeglik bewus van die brande sowel as smeulende materiaal by die stortingsterrein en die ongerief wat dit vir inwoners meebring. Dit word tans as ‘n prioriteit hanteer. Die situasie is reeds met die Tuin Roete Distriksmunisipaliteit sowel as die Wes-Kaapse Provinsiale Regering bespreek en daar word na verskeie moontlike oplossings gekyk. Die grootste uitdaging is masjinerie wat op die terrein aangewend word. Die toerusting waaroor die munisipaliteit tans beskik is nie heeltemal voldoende nie en sal aangevul word.

Die brande kan in drie kategorieë geplaas word:

Eerstens is daar smeulende materiaal wat reeds etlike jare onder die grond smeul en ontoeganklik is. Hierdie smeuling word aangewakker sodra daar ‘n opening vorm wat suurstof binnelaat.

Tweedens word materiaal wederegtelik deur mense op die terrein aan die brand gesteek en dit blyk dat dit veral na donker gebeur wanneer die kontrakteur en personeel onttrek het. Geen materiaal word deur die munisiplaiteit verbrand nie.

Derdens ontstaan brande spontaan as gevolg van die geweldige hitte wat tans ervaar word.

Stappe wat geneem word:

Daar is reeds verskeie kere gepoog om die smeulende areas met water te blus, maar dit is heeltemal oneffektief. Vragte grond word tans aangery om die gedeeltes verder op te vul en plat te stoot. Oop vure wat aangemeld word, word so gou as moontlik geblus.

Die grootste gedeelte van die terrein word daagliks platgestoot en opgevul. Die brande wat ontstaan kom meerendeels op die sykante van die terrein voor en daar word tans ook stappe geneem om dit met grond te bedek.

Moeite word gedoen om die stortingsmateriaal in vier areas te verdeel, naamlik: bourommel, tuinafval, huishoudelik afval en dierereste. Die publiek word dringend gevra om afval slegs in die betrokke areas te strort en dit nie te meng nie. Die verskillende areas word duidelik deur tekens aangedui.

Die publiek word ook gevra om sover as moontlik binne die amptelike ure gebruik te maak van die terrein. Die ure is Maandae tot Vrydae vanaf 07:30 tot 16:30. Enige persoon wat die terrein voortaan tussen sononder en sonop betree, is onwettig op die terrein en sal vervolg word.

Daar is ‘n lugmoniteringstelsel wat gereeld deur die Garden Route distriksmunisipaliteit gekontroleer word om te bepaal of enige skadelike gasse by verskillende terreine in en om die dorp vrygestel word. Tot op datum was daar nog nie ‘n aanduiding van enige giftige gasse nie.

Om reuk van afvalmateriaal te beperk word sekere afval soos byvoorbeeld dierereste onmiddelik begrawe en met kalk bedek.

Die Tuinroete Distriksmunisipaliteit is besig met ‘n nuwe stortingsterrein vir die kusdorpe wat storting van buite drasties sal beperk. Die huidige gebruik van Oudtshoorn se stortingsterrein deur ander dorpe word uiters sorgvuldig gemonitor en lewer ‘n goeie inkomste vir die munisipaliteit.

Lede van die publiek word gevra om brande en enige onwettige betreding van die terrein onmiddelik by die beheerkamer aan te meld by 044 203 7800 / 7801.