Prosperity for All
A Town to grow, work, play & prosper in

Katriena Lewie Sê Totsiens Na 34 Jaar En 9 Maande Van Toegewyde Diens As Bibliotekaresse Van Dysselsdorp Openbare Biblioteek

Oudtshoorn, 08 Oktober 2023 – Dit is met groot eerbied en dankbaarheid dat Oudtshoorn Munisipaliteit, Me Katriena Lewie groet na ‘n aansienlike loopbaan van 34 jaar en 9 maande as Bibliotekaresse van die Dysselsdorp Openbare Biblioteek. Lewie het diens op 03 Januarie 1989 aanvaar en is aangestel deur die destydse Afdelingsraad en sy tree uit diens by Oudtshoorn Munisipaliteit op 31 Oktober 2023. In die loop van hierdie aansienlike tydperk het sy ‘n verregaande impak gehad op die biblioteek en die gemeenskap wat dit bedien.

Gedurende Lewie se indrukwekkende loopbaan het sy met toewyding die Dysselsdorp Biblioteek bedryf. Tydens haar amptstermyn het sy self die biblioteek skoongemaak, boeke weggepak en ook seker gemaak dat die biblioteek tussen 09:00 en 13:00 en vanaf 14:00 tot 18:00 daagliks oop is. Dit is ‘n getuienis van haar passie en toewyding tot die gemeenskap en bestuur van die Biblioteek.

Katriena Lewie was nie net ‘n bibliotekaresse gewees nie, maar ook ‘n gemeenskapsbouer van formaat. Sy was ook betrokke by uitreikingsprogramme en het elke 6 maande ‘n groep bejaardes na die weermag te vergesel vir storievertellings en sangkompetisies. Hierdie betrokkenheid met die gemeenskap het ook uitreikingsprogramme met skole ingesluit en het ‘n bron van verligting en insig gebied. Sy het ‘n onderskeidende reputasie geniet vir die samestelling van interessante en indrukwekkende uitstallings wat bewusmaking oor ‘n reeks aktuele kwessies, insluitend alledaagse sake, gesondheidskwessies, maatskaplike uitdagings en wêreldnuus, gestimuleer het.

Daarbenewens is Lewie met genader om toerisme-bemarking vanuit die biblioteek te behartig, wat sy met buitengewone oorgawe en betrokkenheid gedoen het.

In Januarie 2005 het Lewie ‘n aangrypende bydrae gemaak deur die Vanfijfeiken Speelgoedbiblioteek by die Dysselsdorp Openbare Biblioteek te help stig. Haar doelgerigtheid het daartoe gelei dat die speelgoedbiblioteek op 24 Mei 2005 geopen is, ‘n innoverende byvoeging wat ‘n voorsprong aan die gemeenskap gebied het. Gedurende ‘n groot deel van haar loopbaan het sy 17 jaar alleen in die biblioteek gewerk, totdat Chanel Klaassen in 2007 as Biblioteekassistent aangestel is deur middel van die Conditional Grant-program.

‘n Verdere mylpaal in haar loopbaan was toe die biblioteek in 2009 gerekenariseer word. Dit het ‘n nuwe uitdaging vir haar meegebring, aangesien syself nie oorspronklik oor rekenaargeletterdheid beskik het nie. Desnieteenstaande het sy die geleentheid aangegryp om haarself te bemagtig en kan sy vandag lede van die publiek ook leer.Gedurende ‘n groot deel van haar loopbaan het sy ook die pos van Voorsitter van die Oudtshoorn Biblioteekforum met waardigheid en leierskap beklee, waardeur sy ‘n beduidende impak op die plaaslike biblioteekgemeenskap gemaak het.

Katriena Lewie was nie net ‘n bibliotekaresse en gemeenskapsbouer nie, maar het ook ‘n uitstaande bydrae gelewer as vakbondverteenwoordiger, wat veral ingespan het vir die regte van vroue in die werksomgewing.

Die Uitvoerende Burgemeester van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, Raadsheer Chris Macpherson, die Munisipale Bestuurder, Walter Hendricks, Direkteur: Gemeenskapsdienste, Noel Van Stade, Bestuurder: Biblioteekdienste, Deidre Carelse, die raad en alle munisipale amptenare wens haar ‘n vreugdevolle en geseënde aftrede toe, terwyl ons dankbaar terugkyk op ‘n nalatenskap van 34 jaar en 9 maande van onwrikbare toewyding en dienslewering.

Haar inspirerende leuse in die biblioteek, “GEBRUIK EN HERGEBRUIK,” sal vir altyd voortleef en ‘n baken van wysheid bly wat ons voortdurend sal herinner aan haar bydrae aan ons gemeenskap.