Prosperity for All
A Town to grow, work, play & prosper in

53 nuwe huiseienaars

Oudtshoorn, 19 Februarie 2019 Die behuisingsafdeling het weereens op Maandag, 18 Februarie 2019, transportaktes aan 53 huiseienaars in die Vuyani omgewing oorhandig. Baie het dit met ‘n groot glimlag ontvang.

Die uitvoerende burgemeester, rdl Colan Sylvester, tesame met die onderburgemeester, rdl Noluthando Mwati en raadslid Laurington Stone, het die transportaktes oorhandig aan die nuwe huiseienaars. Noluthando Mwati het uitdruklik vir die nuwe huiseienaars gevra om asseblief nie hulle huise te verkoop nie.  “Moenie die ontvang van ‘n huis as vanselfsprekend aanvaar nie. Sien dit as ‘n voorreg en wees dankbaar daarvoor.”

Colan Sylvester het op sy beurt ook gesê dat hulle nie hulle huise mag verkoop nie, maar om dit vir hul kinders oor te dra as hulle die dag nie meer daar is nie.  Hy het weereens die  belangrikheid van ‘n testament beklemtoon,“mag u die generasies na u in ‘n posisie plaas van eienaarskap deur nie van u huis ontslae te raak nie.”

Shehaam Sims, waarnemende direkteur van Menslike Nedersettings, het dit beklemtoon dat eienaars slegs hulle huise mag verkoop na agt jaar vanaf die ontvangs van transportaktes.  Persone wat wel al huise gekoop het binne die agt jaar loop die risiko dat die transportakte nie op hulle name oorgedra mag word nie. Die huis bly dus op die eerste eienaar se naam al het u die geld aan die eienaar betaal. 

Indien u wel u huis binne die agt jaar wil verkoop, moet u eers na die behuisingsafdeling gaan. Hulle sal ondersoek instel of u ‘n beter heenkome gevind het en of die rede van die verkoop van die huis geldig is.