Prosperity for All
A Town to grow, work, play & prosper in

329 Inwoners word huiseienaars in Wyk 6

Oudtshoorn, 12 September 2018 – Oudtshoorn munisipaliteit se behuisings department kan met trots terugkyk na die lewering van om en by 800 huise die afgelope twee jaar asook die lewering van titelaktes, het burgemeester, Colan Sylvester, hulle geprys met die oorhandiging van nog 329 titelaktes op Donderdag, 06 September 2018. Met samewerking van provinsiale en nasionale regering kon die munisipaliteit hierdie mylpaal bereik.

“Oudtshoorn munisipaliteit is gefokus op die lewering van dienste in ons gemeenskap.  Wanneer dit kom by huise is ons fokus op die lewering van waardigheid aan ‘n inwoner”. Colan Sylvester sê ook verder dat die feit dat die inwoners hulle titelaktes ontvang het, dit hulle in ‘n ekonomiese mark sit om een of ander tyd te kan handel dryf met hul huise, maar ook om verantwoordelik om te gaan met die bate wat hulle ontvang het en waarin hulle alreeds bly.

Raadslid Jerome Lambaatjeen het ook die begunstigdes van Wyk 6 in Rosevalley toegespreek en gesê dat die verkryging van ‘n titelakte menswaardigheid weer terug bring.  “U kan ook nou sê ek besit ‘n eiendom.  Ek het ook eiendom om aan my kinders na te laat as u die dag nie meer hier is nie.  Dit is ‘n blye oomblik”.

Die huise wat die begunstigdes ontvang het, het ‘n vyf jaar waarborg op die strukture en 2 jaar waarborg op die dak.  Sylvester het dit weereens onder die inwoners se aandag gebring dat as daar enige lekkasie is, moet hulle dit asseblief by die munisipaliteit aanmeld. In die tydperk waar ons ‘n tekort aan water het, moet ons verantwoordelikheid neem om toe te sien dat daar nie water gemors word nie.  “Om ook op daardie manier water te bespaar”.

Minister Bonginkosi Madikizela was ‘n gasspreker by hierdie geleentheid en gesê “hierdie gebeurtenis is nie net die oorhandiging van titelaktes nie, dit gaan ook oor die grondhervorming”.  Hy sê die oorhandiging van hierdie titelaktes gebeur op ‘n tyd waar die land in debat is oor grond.  Volgens hom wil die provinsiale regering die waardigheid van die mense wat gemarginaliseerd was in die verlede, herstel deur seker te maak dat mense die reg op eie eiendom het. “Die titelaktes wat u ontvang is ‘n bevestiging dat u nou eiendom eienaars is.  U besit die huis, die eiendom, waarin u nou woonagtig is”. Hy sê ook verder dat die oorhanding u waardigheid as mens herstel wat voorheen geen huis en geen grond gehad het nie.” 

Madikizela het die burgemeester tesame met die amptenare van die munisipale behuisingsdepartement bedank vir die verandering wat hulle in die lewens van 329 huisgesinne gemaak het  in Oudtshoorn op Donderdag.  “Die feit dat die munisipaliteit hulle eiendom-eienaars gemaak het, gaan na die hart van die argument oor ekonomiese transformasie in Suid-Afrika, vir die minder bevoorregte gemeenskappe. DIt is ons as regering van die Wes-Kaap saam met al die munisipaliteite in die Wes-Kaap se morele verpligting om om te sien na mense”.

Minister Madikizela het ook vir Tertius Simmers, ‘n lid van die parlement, bedank vir die feit dat hy altyd die mense se behoeftes eerste stel en ook Oudtshoorn munisipaliteit ondersteun met die huisvesting van so baie inwoners.

Onderburgemeester Noluthandu Mwati, het die verrigtinge afgesluit en gesê dat ’n persoon sonder ‘n huis ‘n bosslaper en ‘n bergie is, maar die persone wat hul titelaktes gekry het, het nou weer hulle waardigheid en selfvertroue teruggekry. “ U kan nou met trots sê dat u ‘n huis het, dat u ‘n huiseienaar is.  Moet asb nie u huis verkoop nie. Maak u huis warm en leefbaar vir u kinders, sodat hulle nie in die dorp loop asof hulle nêrens behoort nie.  Hou u huis en erf skoon, wees trots op u huis”.

Een van die begustigdes, Ragel Esau, 63, sê sy is baie dankbaar dat die Here haar deurgedra het dat sy uiteindelik ‘n huis kan hê wat sy haar eie kan noem. 

Mnr Kiewiet Pieterse, ook ‘n nuwe huiseienaa, sê hy het ‘n lange 10 jaar gewag vir ‘n huis en het nou uiteindelik ‘n huis na hy vir ‘n paar jaar in ‘n matjok moes bly.

Oudtshoorn munisipaliteit het weereens op 31 Augustus 2018 die eerste plek vir die Govan Mbeki toekenning gekry vir die Rosevalley- projek in Kaapstad.